Afrika-kampioen deel van Vrystaatse afrigtingspan
Die Vrystaatse Cravenweek-rugbyspan vir hoërskole se agterlyn word vanjaar deur ’n voormalige Afrika-stoeikampioen Corné Erasmus afgerig.
Hy is ook die breier van Louis Botha se eerste span en het in 2003 die Afrika-titel in Kairo, Egipte verower.
Erasmus en Grey-kollege se Wessel du Plessis sal vanjaar onderskeidelik as agter- en voorspeler-breier by die Vrystaatse o.18-span betrokke wees.
Erasmus het in sy stoeiloopbaan ook ’n derde plek op 2005 se Statebondspele behaal. Hy rig al vier jaar Louis Botha se eerstespan af, waarvan die laaste twee jaar as hoofafrigter is.
Dirkie Groenewald, wie aanvanklik Erasmus se hoofafrigter by Louis Botha was, is vanjaar die Vrystaters se hoofafrigter by die nasionale week wat in Middelburg plaasvind.
Groenewald is al die afgelope vyf jaar by die Vrystaatse Cravenweek-span se afrigting betrokke en is ’n gewese Vrystaat-voorryman.
Erasmus en Du Plessis neem die plek van Roelf Meyer in wat verlede jaar as ’n Suid-Afrikaanse Skole-keurder verkies is.
Hy mag nie meer by die afrigting van die Vrystaatse span betrokke wees nie. Erasmus het die vorige drie jaar die Vrystaatse Akademie-span afgerig.
“Dit is ’n hoogtepunt as skoleafrigter om na die Cravenweek te gaan,” het Erasmus gesê.
Du Plessis sal vanjaar vir die eerste keer amptelik by ’n verteenwoordigende afrigtingspan betrokke wees wat ’n nasionale toernooi bywoon.
Hy was as speler lid van die Vrystaatse Cravenweek-span wat in 2002 teen die Westelike Provinsie in die hoofwedstryd van die toernooi met 16-31 die knie gebuig het.
Springbokke soos Bismarck du Plessis, Ruan Pienaar, Andries Strauss en Morné Steyn was saam met Du Plessis in daardie span.
Wessel rig al die afgelope twee jaar Grey se eerste span af.
“Ek sien baie uit na die Cravenweek. Dit is maar ’n leerproses. Ek dink dit is ’n baie goeie geleentheid vir die spelers,” het Du Plessis gesê.
Groenewald het self vir die Vrystaat op die gesogte toernooi uitgedraf. Hy was lid van die span na die toernooi in 1989 en 1990.
Hy rig die afgelope twee jaar Hoërskool Fichardtpark se span af.