Affies en Diamonds pak mekaar in Kimberley
Die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (Affies) en Hoërskool Diamantveld gaan hierdie naweek vir die eerste keer vanjaar kragte meet by Diamantveld se sportdag in Kimberley.
Die wedstryd vind Vrydag, 8 Maart, om 17:40 plaas.
Hoewel Affies verlede jaar oortuigend ‘n telling van 37-15 oor Diamantveld geseëvier het, waarborg vorige prestasies hoegenaamd nie toekomstige uitslae nie, en is albei spanne oorgehaal om alles in die stryd te werp vir ‘n oorwinning.
Beide spanne beskik oor heelwat talent. Affies spog byvoorbeeld met Izelle Grabe, wat Suid-Afrika reeds op sowel o. 16- as o. 17-vlak verteenwoordig het, terwyl Diamantveld ook ‘n SA-speler, Mari du Raan, in hul geledere het.
Toeskouers kan hulself regskuif vir ‘n opwindende sportdag, met spanne van Hoërskool Upington, Wildeklawer, Kimberley Boys’ High School, HTS Kimberley, Hoërskool Duineveld, Eunice High School, Hoërskool Kalahari en Christian Brothers College (CBC), wat almal saam met Affies en Diamantveld in aksie sal wees.
Spanne:
Hoërskool Diamantveld: Mari du Raan, Johandri de Wet, Izeldi Jacobs, Valmari Faber, Carmen Louw, Lara van Niekerk, Klarissa Taljaard, Brithe Honiball, Zandri Starke, Timney Greyling.
Afrikaanse Hoër Meisieskool: Izelle Grabe, Jaime Matfield, Bianca Lubbe, Anouk Janse van Rensburg, Kristi Koekemoer, Emma Strydom, Nina Hay, Arette Burger, Amia Roux, Liane van Lochem.